OVERVAAL STEREO SE

VISIE

Overvaal Stereo bewywer hulle om die Taal, Kultuur en Godsdiens van die Christen Afrikaner te bevorder.

 MISSIE

Ons doen dit deur radioprogramme aan te bied wat gerig is op die Christen Afrikaner. Ons skep  geleenthede vir die mense om self te deel in die programme en sodoende die kultuur, godsdiens en taal lewend te hou.
 


 

 

 

 


Overvaal Stereo het op 6 Desember 1993 vanaf Koppies as Radio Koppies begin uitsaai. Gereelde uitsendings het egter eers in Februarie 1994 begin. In 1996 het die ateljee na Viljoenskroon verskuif en as gevolg van verwarring is die naam later na Overvaal Stereo verander. Hierdie naam is deur die luisteraars gekies.


 
Die ateljee in Viljoenskroon voordat dit herbou en aangepas is

Overvaal Stereo is 'n welkome vriend vir die luisteraar en terselfdertyd 'n uitstekende bemarkingsmedium vir die besigheidsgemeenskap.



Overvaal Stereo is een van die grootste gemeenskaps radiostasies en saai met 5Kw krag uit op 96.1 MHz FM Stereo. Overvaal Stereo bedien die Noordwes, Noord-Vrystaat en Suid-Gauteng provinsies. Dorpe wat Overvaal Stereo opvang sluit in Potchefstroom, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein, Parys, Vanderbijlpark, Wolmaransstad, Leeudoringstad, Bothaville, Sasolburg, Carletonville, Fochville, Welverdiend, Heilbron en Ventersdorp. Die sein kan ook opgevang word so ver as Coligny, Odendaalsrus, Welkom, Kroonstad en Randfontein.

Die ateljee is in Viljoenskroon geleë en die sender staan op Grootkop, ongeveer halfpad tussen Viljoenskroon en Vredefort.



Die stasie is gerig op die LSM groep 6 - 8 met gemiddelde ouderdomme tussen 25 - 49 en 'n inkomste van gemiddeld R3 000.00 per maand. Die programme is gemik op die Afrikaanssprekende gemeenskap met 'n mengsel van musiek (60%) en geselspraatjies (40%). Die musiek bestaan uit 70% Afrikaanse en nasionale musiek en 30% internasionale musiek. Met 24-uur uitsendings (Sondae slegs vanaf 11:00 - 12:00 en 19:00 - 24:00) strewe Overvaal Stereo daarna om 'n plek te wees waar mense kan kommunikeer.

Overvaal Stereo het 'n 7-dag luistertal van ongeveer 70 000 luisteraars (RAMS Julie 2009 - Julie 2010) en saai daagliks gereelde weervoorspellings en nuusbulletins uit (wat plaaslike nuus insluit). Elke middag is daar 'n volledige nuusbulletin met aktuele onderhoude wat die luisteraars inlig oor sake van die dag. Die stasie se krag lê in die diens aan die gemeenskap, met gereelde versoek- en inbelprogramme.

Die stasie beskik ook oor 'n toegeruste buite-uitsendingseenheid, wat gereeld vanaf besighede, feeste en byeenkomste uitsaai. Veral besighede maak gereeld van hierdie buite-uitsendings vanaf hulle persele gebruik, omdat dit praatjies oor hulle produkte, dienste en besigheid insluit, wat onmiddelike resultate tot gevolg het.

Overvaal Stereo bied ook gereelde kompetisies aan waar luisteraars CD's en ander pryse kan wen en is ook bekend vir sy vele liefdadigheidsprojekte wat aangepak word ten bate van die gemeenskap.

As jy nog nie by Overvaal Stereo geadverteer het nie, het jy nog nie geglimlag nie!